By die deurblaai van die Groot Verseboek (hierna GV) is dit opvallend dat daar so baie keer van aanspreekvorme in gedigte gebruik gemaak word. Van die heel eerste gedig wat daarin opgeneem is, naamlik Klaas Geswind en sy perd (p. 1) tot ’n gedig van die laaste opgenome digter, André le Roux, (struisbaai-blues, p. 506), gebruik digters telkens hierdie taalmiddel om een of ander spesifieke effek te verkry.